Prinses Charlene van Monaco se tikkie SA flair
Prinses Charlene het Saterdagaand geskitter by die Rooi Kruis se spoggala in Monaco. Om alles te kroon het sy haar aandrok afgerond met ’n bossie oranje speldekussings – so ’n tikkie Suid-Afrikaanse flair!
Prinses Charlene en prins Albert het die geleentheid bygewoon ter ere van die slagoffers van die Nice-terreuraanval. Sy was geklee in ’n ligpers rok met ’n diep V-halslyn.Hello Magazine het die rok as ’n showstopper bestempel.
Die paleis het foto’s van die geleentheid op hul Facebook-blad gedeel. Op een van die foto’s sien jy duidelik prinses Charlene se invloed in die tafelversierings. Dieselfde speldekussings wat sy as handruiker gedra het, het ook op die tafels gepryk.
Blaai deur die galery vir nóg foto’s:
Dit is nie die eerste keer dat prinses Charlene haar liefde vir SA se proteas wys nie. Selfs by haar troue was die troukoek versier met eetbare bloeisels en blomme, waaronder proteas.
Vroeg in Januarie 2015, toe prinses Charlene en prins Albert hul tweeling, Jacques en Gabriella, aan die mense van Monaco bekend gestel het, het die paleis agter-die-skerm-foto’s van die geleentheid op hul Facebook-blad geplaas. Daar het proteas weer op die foto’s gepryk.
Prinses Charlene het Nerine Pienaar toe as haar dogter, Gabriella, se peetma aangewys. Nerine en haar man, die voormalige Springbok-kaptein François Pienaar, was by die doop van die koninklike tweeling in Monaco. Oor die geleentheid het Nerine destyds aan SARIE.com gesê dit is vir haar besonders hoe prinses Charlene altyd ’n baie sterk Suid-Afrikaanse tema het met die blomme en die kos. “Die tafels was pragtig versier met koningsproteas – en Charlene vertel ook dan baie graag aan almal die agtergrond van die protea en hoekom dit vir haar só ’n spesiale blom is.”
Dié spesiale blom is ook op die prinses se eie seël wat sy in November 2015 gekry het. Die seël is op 3 Desember by Monaco se filateliese tentoonstelling vir posseëlversamelaars, MonocoPhil, bekend gestel. Stéfanie van Zyl se portret van Charlene is vir die seël gebruik en dit is deur Elsa Catelin ingeëts. Nes die prinses het die seël ook Suid-Afrikaanse konneksies. Op die agtergrond pryk ’n bos proteas, haar gunsteling-blom. Stéfanie is ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar wat al verskeie skilderye vir die koninklike paartjie van Monaco geskilder het.
Prinses Charlene se seël.